beeld

Redes om jou klere ten volle te verseker

Image/Video: 
Image
Short description: 
As jy weer ’n nuwe handsak of duur paar skoene in jou kas bêre, dink dalk ’n bietjie oor wat sou gebeur as jou kas skade sou ly.
Content: 
As jy weer ’n nuwe handsak of duur paar skoene in jou kas bêre, dink dalk ’n bietjie oor wat sou gebeur as jou kas skade sou ly.

Luidens nuwe navorsing onderskat baie vroue die waarde van hul klerekas se inhoud drasties. 

As hul klere dus gesteel of in ’n brand beskadig word, kan hulle nie net uit die mode wees nie, maar ook in ’n geldkrisis gedompel word wanneer hulle die klere moet vervang.

“Die gereelde assessering wat ons van ons kliënte se besittings doen, wys dat omtrent 90% van vroue die waarde van hul klerekas se inhoud onderskat en dit op omtrent die helfte van die werklike waarde reken,” sê me. Christelle Fourie, besturende direkteur van MUA, ’n versekeringsmaatskappy wat in luukse goedere spesialiseer. 

“Baie van ons vroulike kliënte het nie ’n idee wat hul klerekas werd is nie.

“Die hoofrede is dat versekeringswaardes bereken word op wat dit kos om ’n item te vervang. 

’n Ontwerperspak wat ’n paar jaar gelede R2 000 gekos het, kan nou by die R10 000 draai as dit vervang moet word,” verduidelik sy.

Navorsing wat onlangs in Brittanje deur die versekeringsmaatskappy Liverpool Victoria gedoen is, het onthul die gemiddelde Britse vrou skat die waarde van haar klerekas op sowat £1 840 (omtrent R22 000), terwyl die eintlike waarde daarvan byna vier keer hoër op £7 000 (ongeveer R84 000) gereken word.

“Behalwe vir groot uitgawes soos ’n motor en ’n huis, gee ’n vrou ’n aansienlike deel van haar inkomste op klere uit,” sê Fourie.

“Suid-Afrikaanse vroue gee duisende rande uit op skoene, bykomstighede en klere, dus moet hulle seker maak dié items is behoorlik verseker.”

Hoewel ’n hele klerekas selde op een slag vervang moet word, raai sy vroue nietemin aan om seker te maak hul klerekas is vir die regte waarde verseker, ingeval hulle onder ’n brand of inbraak sou deurloop. 

Die meeste versekeringspolisse laat jou toe om vir klere te eis in die geval van ’n inbraak of skade aan jou huis, maar daar is gewoonlik ’n beperking op wat jy kan eis. 

Maak seker jou klerekas word deur jou polis gedek.

Sy sê dit is ’n goeie idee om ’n realistiese inventaris van jou klerekas te maak en uit te werk hoeveel dit nou eintlik werd is.

“Moenie vergeet om daardie handsakke agter in die kas by te reken nie. As jy ’n hele klompie duur uitrustings het, is dit ’n goeie idee om ’n professionele assessor se hulp in te roep.”

Sy sê dit is ook ’n goeie idee om uit te vind of jou polis jou handsak en die inhoud daarvan dek.

“Om jou handsak te verseker is ’n taamlike goedkoop, dog noodsaaklike toevoeging tot jou polis.

“Die inhoud van ’n handsak kan maklik by die duisende rande draai, as jy in ag neem dat nie net die sak vervang moet word nie, maar ook jou sleutels, grimering, MP3-spelers, selfone en ’n beursie.” 

As die jas dan pas

Vir haar 40ste verjaardag het die aktrise en komediant Lizz Meiring haarself met ’n paar handgemaakte Italiaanse leerstewels bederf.

“Dit was eintlik ’n winskopie, want hulle was afgemerk van R3 000 tot R1 000. 

“Die gehalte en vakmanskap is ook wonderlik, met regte Swarovski-kristalle daarop geborduur,” sê sy.

Sy sien die skoene as ’n belegging. “Ek het hulle al na vele geleenthede gedra. As iets werklik ’n gehalte-produk is en ek weet ek gaan dit baie dra, gee ek nie om om baie geld daarop uit te gee nie.”

Sy vertel ook hoe een van haar “beleggings” skeefgeloop het in Amsterdam.

“Ek het in die winter aan ’n produksie in Nederland gewerk en ’n fortuin uitgegee op wat ek gedink het ’n klassieke rooi jas is. 

Ek het soos ’n ware Hollywood-ster gevoel daarin.”

Een aand, toe sy met die einste rooi jas aan deur die rooiliggebied stap, het vier mans haar egter vir ’n sekswerker aangesien en so ewe navraag oor haar “dienste” gedoen. 

“Heeltyd voel ek so modieus en klassiek in die rooi jas en dié mans dink ek is ’n prostituut!”

’n Goue das uit Spanje

“My klerekas is nogal veelbesproke, dalk omdat dit so vervelig is,” vertel die modeontwerper Simon Rademan. 

“Dit is so donker dat ek ligte moes aanbring daarin! Alles is swart, my hemde, broeke, baadjies, selfs my skoene.

“Ek gee graag geld uit op dasse en dít is waar van my duurste kopies nog tot nog toe was.

“Ek het verskeie Van Gill’s, en ’n paar Salvatore Ferregamo’s, wat natuurlik my gunstelinge is. 

Een das het ek in Spanje inderhaas gekoop omdat die kleur so eksoties was: Goud! Dit het my sowat R4 500 gekos en is steeds my gunsteling”.

Ironies genoeg is dit die item in Rademan se kas wat hy nog die minste gedra het. 

“Dit is te herkenbaar met my soort klerekas, maar wanneer ek hom dra, voel ek steeds soos die kat se snor!”

’n Louis Vuitton-handsak wat sy as geskenk kry

Nicole Flint, Mej. Suid-Afrika 2009, vertel die duurste item in haar kas is ’n Louis Vuitton-handsak.

“Dié handsak het ongeveer R8 000 gekos. Ek het dit tydens my eerste besoek aan Italië gekry. Ek kon dit beslis nie self bekostig nie. 

Dit is as ’n geskenk vir my gekoop by La Rinascente, ’n afdelingswinkel uit Milaan wat spesialiseer in klere, huis- en skoonheidsprodukte. Ek gebruik die handsak baie omdat dit so veelsydig en tydloos is. 

“Dit is seker een van die beste geskenke wat ek nog ontvang het, afgesien van my Volkswagen Scirocco.”

Die goedkoop Issey Miyake

’n Swart Issey Miyake-sak wat “haar naam op gehad het”, is die duurste ding wat die aktrise Rolanda Marais nóg gekoop het.

“Ek het die sak so nege jaar gelede gekoop. Dit was destyds R4 000, op uitverkoping nogal!”

Marais was met vakansie in Londen, met geld wat sy dié jaar vir advertensiewerk verdien het. 

“Ek was op soek na ’n kunsgalery, besig om lekker te verdwaal, toe ek afkom op die Issey Miyake-boetiek. Ek moes net ingaan om ’n bietjie te browse en daar sien ek toe die ‘Sale’-teken en die sak.

Dit was die goedkoopste item in die winkel en ek moes dit net hê!”

Die sak staan egter nie en stof opgaar in haar kas nie.

“Ek het dit voos gebruik. Dit het my soos ’n miljoen dollar laat voel. Ek was nog nie ’n dag spyt dat ek dit gekoop het nie. 

Dit was baie funksioneel en het my groot genot verskaf as mense gevra het waar ek dit gekoop het!”

 
Source: Beeld

Street view kan inbrekers so help en maak inwoners kwesbaar

Image/Video: 
Image
Short description: 
Skelms wat behendig is met ’n rekenaar sal nou baie makliker toegang tot jou huis kan verkry met Google se Street View-funksie.
Content: 
By Marelize Potgieter, Beeld.
 
Kaapstad. – Skelms wat behendig is met ’n rekenaar sal nou baie makliker toegang tot jou huis kan verkry met Google se Street View-funksie.
So het me. Christelle Fourie, besturende direkteur van MUA Insurance in Kaapstad, gister gesê.
 
Die nuwe tegnologie kan inbrekers help om vas te stel of ’n huis ’n elektriese heining en veiligheidskameras het en presies bepaal hoe groot die omtrek van die perseel Street View stel jou in staat om van enige punt op straatvlak in alle rigtings ’n panoramiese uitsig van die omgewing te geniet. Dit is onlangs op die Suid-Afrikaanse kaarte van Google Maps (www.maps.google.com) en Google Earth bekend gestel.
 
Volgens Fourie is die kameras wat gebruik is om strate te verfilm baie hoër as die normale persoon en stel dit jou in staat om oor ’n heining of muur te kyk. “Jy kan ongelooflik baie detail met Street View sien.
 
“Suid-Afrika is baie uniek in die sin dat ons so ’n hoë misdaadsyfer het en die funksie maak mense kwesbaar.”
Huiseienaars doen so baie om hul wonings te beveilig en dit is kommerwekkend om te dink dat Google in afgebakende woon-
areas ingegaan het om strate en huise te verfilm.
 
Mnr. Tony Schreiber, medestigter van BKM-buurtwag, dink egter nie Street View sal noodwendig ’n toename in huisbrake tot gevolg hê nie. “?’n Inbreker is dikwels ’n opportunis en sal die meeste van die tyd toeslaan wanneer hulle ’n geleentheid sien.
 
“Dit is gewoonlik iets soos ’n oop deur of hek wat hulle lok.”
 
Indien ’n inbraak beplan word, sal die inbreker die omgewing heel waarskynlik vooraf verken.
 
Hulle sal seker maak of daar honde is en indien wel, hoeveel en waar hulle toegemaak word.
 
Volgens me. Julie Taylor, woordvoerder van Google Suid-Afrika, word mense se privaatheid beskerm deur gesigte en voertuie se nommerplate te verdof. Die beelde is maande oud en kan verwyder word as ’n versoek gerig word.  
 
Source: Beeld
Syndicate content